Saturday, February 5, 2011

In die Karoo het die naam “Shell” oornag ’n vloekwoord geword



‘Go well’ ... en bly weg


KIRBY VAN DER MERWE gesels met die boere by wie skaliegas spook ...

‘Is jy die man van Shell? Jy gaan pak kry hier,” spot ’n sakeman op die stoep van Graaff-Reinet se klubhuis oorkant die NG kerk. ’n Mens wil nie deesdae in dié Oos-Kaapse dorp “die man van Shell” wees nie. Hier het “Shell” onlangs ’n vloekwoord geword.



Want sedert dié Nederlandse oliemaatskappy by die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (Pasa) aansoek gedoen het om die prospekteerregte om skaliegas in die Karoo te ontgin, raak die streek se mense sommer warm onder die kraag wanneer jy die naam noem.
Hoewel Shell een van drie maatskappye is wat gas in die Karoo wil ontgin, is Graaff-Reinetters veral vies vir dié oliereus. Die maatskappy het dan onderneem om nie die vulstasie in die hart van hul dorp te vergroot nie, en wil dit nou waaragtig doen. Noudat Shell boonop prospekteerwerk in die gebied wil doen, is die dorp se mense op hul agterpote. Want wat van die ondergrondse water in die streek? Sê nou die dorstige boorproses sluk dit op? Sê nou daar’s ’n lek tydens die boorwerk en die water word vol chemikalieë gepomp? En wat van die paaie wat Shell se vragmotors sal voos ry?


Graham Murray is een van die boere op Graaff-Reinet wat bekommerd is dat Shell die Karoo met sy planne gaan opneuk.
Die boere van die omgewing frons wanneer hulle op ’n Woensdagaand by die klubhuis vir ’n vergadering van die streek se Wolprodusente-vereniging bymekaarkom. “Ons maak staat op die ondergrondse water wat ons met windpompe uitpomp. Ons weet nie watter impak die boordery op ons ondergrondse water gaan hê nie,” sê Joe Kroon, voorsitter van die vereniging. Hy skud sy kop. “Gaan dit verdwyn of besoedel raak?”

“Ek bekommer my dat die gifstowwe wat tydens die prospekteerwerk in die grond gepomp word in die water sal beland,” beaam Garth Charles, nog ’n boer. Hy lyk beswaard. “Hier is baie wildplase, en ons hou springbokke tussen die skape en bokke aan. Ons voer ook wildsvleis en volstruisvleis na die Europese Unie uit. As hulle gifstowwe in die vleis optel, is dit die einde van daai mark.”
Die volgende oggend loop ek Graham Murray in die dorp raak nadat hy pas ’n merinoram op ’n veiling gekoop het. Die ram blêr agterop die bakkie; Murray se protes is meer besadig. “Ek voel nie gerus nie. Daar is te veel gevare aan die proses verbonde. Miskien kan hulle vir twintig jaar gas ontgin, maar wat dan? Shell moet eerder die miljoene rande wat hulle hier gaan inpomp, gebruik om hernubare vorme van energie te ondersoek. Wie weet, dalk is dit nie lewensvatbaar nie. Maar selfs dan is die skade aangerig.”
Elders in die dorp gaan die lewe sy gang. Die omstrede proses wat moontlik voorlê, blyk dit, het by van die dorpenaars verbygegaan. Maar noem jy die woorde “gas” en “water”, wil almal eers ’n eier lê.

“Kyk, ek is op Boskraal gebore,” begin Philip Titus sy storie. “Nou, daar in 1963 rond het ons twee gate op die plaas geboor vir water. Maar wragtag, ons het nog nie eens water gekry nie, toe borrel hy. Ek sê vir jou, ons moes een gat baie vinnig toemaak. Daai water was pikswart, en hy het só gestink jy kon die ruik nie uitstaan nie. Ons het sommer sinkplate bo-op gegooi en dit met klippe vasgepak. Jy kan gaan kyk, daai gate is nog daar. Hulle het later net sy bek kom toestop.”
Aletta Cloete staan nader om ook haar mening te gee. “Dis doodsake. Water en gas werk nie saam nie, dis ’n gevaarlike speletjie. Ons sal maar moet sterk wees,” sê sy.
Die dorp se burgemeester en die hoof van ’n plaaslike laerskool, Daantjie Jafta, verduidelik baie mense is nie bewus van die drama wat woed nie. “Onthou, ’n klomp van ons mense is ongeletterd; hulle kan nie koerante bekostig nie. Maar dis ’n saak wat hulle ook raak.” Nee, sê hy, die betrokke maatskappye het nog nie werklik met die plaaslike mense gekonsulteer nie.
Soos die res van die dorp se ingeligtes, is hy veral bekommerd oor wat van die streek se water sal word.
“Ons woon in ’n halfwoestyn. Ons groot bron van inkomste is boerdery en toerisme, en albei is aangewese op die land. Ons kan nie in die pad van ontwikkeling staan nie, maar daar moet ’n wetenskaplike ondersoek gedoen word na wat die impak van die proses op die omgewing sal wees.”
“En,” voeg hy by, “die maatskappye het nog nie met die Khoisan gekonsulteer nie. Dis iets wat hulle sal moet doen.”
Dit is seker so dat vooruitgang ’n goeie ding is, maar wat gaan van die skoonheid van die Karoo se verlate vlaktes word? vra Daniel Goliath.
“ ’n Mens wil nie agterbly nie, want ander dorpe groei en daar moet ontwikkeling wees, maar ek wonder hoe dit ons dorp se plattelandse karakter gaan verander.”

’n Man wat die impak van ’n groot maatskappy se ambisie al aan eie bas gevoel het, is die boer Alex Palmer. Die voormalige Suid-Afrikaanse Olie-eksplorasiemaatskappy, Soekor, wat vandag deel van PetroSA is, het in die laat 1960’s op Cranemere, sy plaas buite Pearston, olie en gas gesoek en ’n klomp argeoloë en ingenieurs na sy grond gestuur.
“Ons het ’n stuk grond van agt hektaar afgekamp,” onthou hy terwyl ons die pad vat na die gat wat op sy grond gesink is.
Dit is die einste gat wat gesorg het dat Bundu Gas and Oil, nog een van die maatskappye wat om prospekteerregte aansoek gedoen het, in die plaas belangstel. Die maatskappy noem sy projek sommer Cranemere, sê Palmer, en dít sonder sy toestemming.

“Jy sal nie glo hoe dit gelyk het toe Soekor destyds hier was nie. Dit was omtrent ’n dorp. Die Franse boortoring het blykbaar direk van die Saharawoestyn hierheen verskuif,” sê hy terwyl ons tussen die plantasie garing-bome loop. “Daar was omtrent dertig mans – Franse, Italianers, Duitsers en Spanjaarde – wat die boorwerk kom doen het.”

Die probleem, sê hy, was dat die manne met gewere die veld ingevaar het om hase te jag. “Dit is die grootste probleem wat die boordery op plase gaan veroorsaak: onwettige jag, veediefstal, hekke wat oopgelos word, paaie wat voos gery word. Alles wat ’n boer irriteer.”
Daar is eintlik niks wat ’n plaaseienaar kan doen om die oliemaatskappye sy grond te belet nie, sê hy. Jy kan dinge probeer uitstel, maar jy kan hulle nie weier nie. Uiteindelik sal hulle tog jou plaas invaar.

“As dit in landsbelang is dat hulle gas ontdek, is dit seker ’n goeie ding. Ek wil nie in die pad staan van ontwikkeling nie. Maar het ek die versekering dat hulle my gaan vergoed as die water vergiftig word, my diere vrek en ek nie kan boer nie?”
Die staat het sy grond destyds vir R200 gehuur, sê hy. Dit was selfs toe niks werd nie. En die streek se mense het nie juis geld gemaak uit die proses nie.
Johnny van Dalen, die eienaar van die hotel op Pearston, het nog gedink hy gaan ’n fortuin maak, onthou Palmer. “Hy moes kos aan die mense in die kamp voorsien teen R1,40 per bord. Maar hy het gou besef dit gaan nie werk nie – die Franse wou Franse kos hê, die Italianers wou pasta hê, en die ander lot het almal hul eie nukke gehad.”
Ons staan by die gat wat destyds op sy plaas geboor is. Dit was toe een van die diepste gate in Suid-Afrika – 5 km onder die grond. En vandag is dit maar net ’n gat.

Wat dan van die water? vra boere soos Joe Kroon en Garth Charles.

Derek Light
In sy kantoor op Graaff-Reinet raak die prokureur Derek Light skoon opgeskroef wanneer hy oor Shell praat. Hy verteenwoordig individuele grondeienaars en landbou-organisasies wat Shell in sy spore wil stuit. Dié storie, sê hy, kom al ’n lang pad.
“In die 1960’s en 1970’s het die vorige regering gesoek na alternatiewe bronne van olie, want hulle was in afsondering van die res van die wêreld. Toe word Soekor gevra om prospekteerwerk te doen, onder meer in die Karoo. Hulle het geen olie ontdek nie, maar wel op gas afgekom. Die grootste vonds was op die plaas Cranemere.

“Soekor het gedink hulle het ’n groot gasbron raakgeboor, maar die gas het binne ’n dag uitgebrand. Hulle het ’n aantal boorgate gesink en uiteindelik besluit die projek maak nie ekonomies sin nie. Die tonnels is toe toegestop.”
Toe Pasa oliemaatskappye ’n paar jaar gelede genooi het om aansoek te doen om die prospekteerregte vir skaliegas, is die inligting en grondmonsters wat destyds deur Soekor gebruik is aan hulle beskikbaar gestel. Drie maatskappye – Shell, die Suid-Afrikaanse onderneming Bundu Gas and Oil en die Kanadese Falcon Oil and Gas het toe om die regte aansoek gedoen.
Die gas, verduidelik Light, is vasgevang in die skalierots wat tussen 7 en 1 500 m onder die grond onder die Karoo se oppervlak voorkom. As daar krake in die rots vorm, kan die gas bevry word.

Miljoene liter sal benodig word om genoeg drukking in die ondergrondse pype te skep sodat dit druk op die skalierotse sal plaas en dit sal laat kraak (dié omstrede proses word hidro- breking of fracking genoem).
“Water is skaars in die Karoo. Waar gaan die water vandaan kom? Ons gaan sit met miljoene liter modder vol chemikalieë en minerale wat daarin opgelos is.
Die impak wat die boordery op ons ondergrondse watersisteem gaan hê, laat die hare regop staan.”
Shell en Bundu sal glo van elders water invoer en die Karoo nie sy skaars hulpbron ontneem nie, se Light. Seewater sal eerder tot op Beaufort-Wes aangery word en van daar deur vragmotors verder vervoer word. Maar dit, sê Light, gaan “die Karoo se paaie flenters trap”.
Pasa het die prospekteerregte vir die gebied nog nie aan die maatskappye toegestaan nie en die maatskappye moet nou met die gemeenskap en ander belanghebbendes beraadslaag en ’n omgewingsimpakstudie laat doen.
Die eerste studie moet binne 121 dae voltooi word. As Pasa daarna die groen lig gee, sal verdere konsultasie met die gemeenskap plaasvind en ’n breedvoeriger impakstudie gedoen word. En ja, Shell hét reeds moeite gedoen om openbare vergaderings te hou, die impakstudie verduidelik en aangedui watter metodes hulle in die proses sal gebruik, sê Light.

Die prokureur Derek Light wil sorg dat die Karoo nie vol gate geskiet word nie en het ’n stem vir sy mense geword. Maar die Karoo se mense wil steeds keer dat Shell die wêreld van Queenstown, Aliwal-Noord, Loxton en Fraserburg vol gate boor en skiet.
“Shell se gebied beslaan sowat 95 000 vierkante kilometer. Maar die gebied waar die drie maatskappye saam prospekteerwerk wil doen, beslaan ’n gebied van 200 000 vierkante kilometer.” En dít is nie ’n klein stuk wêreld nie. “Dis so te sê die hele Karoo.”

Shell se paaiwoorde
Daar is twee fases ter sprake wanneer dit kom by Shell se aansoek om die prospekteerregte vir skaliegas, sê Phaldie Kalam, visepresident van kommunikasie vir Shell Afrika.
Die eerste fase moet binne 121 dae voltooi word,en behels konsultasie met gemeenskappe en belanghebbendes asook ’n omgewingsimpakstudie.
As Pasa hierna ’n voorlopige groen lig gee, moet eers ’n tweede omvattende omgewingsimpakstudie en verdere konsultasie volg. Eers dan sou ’n lisensie om vir skaliegas te boor toegestaan kon word. As dit gebeur, sal Shell waarskynlik teen einde aanstaande jaar met die boorwerk begin.
Kalam sê die omgewing se ondergrondse water sal nie deur die projek geaffekteer word nie omdat die ontginning veel dieper as die watertafel sal plaasvind, en dat sement en staal ingespan sal word om te sorg dat die ondergrondse pype verseël word en nie kan lek nie.

No comments:

Post a Comment