Wednesday, February 2, 2011

Verbied prospekteerreg vir Shell

www.landbou.com




deur Alani Janeke
Die Oliereus Shell se voorstel vir die ontginning van gas in die Karoo moet nie eens deur die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (PASA) oorweeg word nie, aldus die Demokratiese Alliansie(DA).


Luidens ‘n verklaring is die party gekant teen die gebruik van hidroliese frakturering van grond en klip, wat die proses sal wees wat vir dié mynaktiwiteite aangewend sal word.
Volgens mnr. Gareth Morgan, die party se woordvoerder vir omgewingsake en water, is dié proses in verskeie omgewings in die VSA al verban, en het hy mnr. Mthozami Xiphu, uitvoerende hoof van PASA, versoek om nie die aansoek te oorweeg voor ‘n volledige impakstudie op die Karoo se geologie en waterbronne uitgevoer is nie.
15 miljoen liter water.
Die party sê tydens een fraktureringsgebeurtenis word 15 miljoen liter water gebruik, en as mens vat dat oor ‘n periode van nege jaar – Shell se voorgestelde mynperiode – honderde van dié gebeurtenisse op 90 000 ha grond gaan plaasvind, kan dit die distrik waar water skaars is baie duur te staan kom.
Die DA meen dat ‘n moratorium op enige sulke mynaktiwiteite ingestel moet word. Morgan sê dit is belangrik om op te merk dat die Departement van Minerale Hulpbronne verlede jaar in die Parlement erken het dat hulle geen regulasies of beleide oor dié mynmetode in plek het nie.
Hy meen met ondervindingsgebreke binne die departement sal dit onverantwoordelik van PASA en die Regering wees om hulle slegs op Shell, of enige ander maatskappy of aansoeker, vir inligting rondom die lewensvatbaarheid hiervan te beroep.
Die VSA is tans ook besig met navorsing oor die moontlike invloed van dié mynaktiwiteite op waterbronne en die gehalte van drinkwater.

Aansoek teruggetrek
Intussen het Advasol, ‘n alternatiewe energiemaatskappy, hulle aansoek vir ‘n lisensie om gas langs die Suid-Kaapse kus te myn, vir eers teruggetrek. Luidens ‘n verklaring sê die maatskappy hulle moet groter fokus plaas op hulle beplande projekte in Mosambiek en die Noord-Kaap.
Die maatskappy wil moontlike gasbronne in Mosambiek ontgin, asook fokus op hulle solar energie parke in die Noord-Kaap. Anton van Wyk, die maatskappy se direkteur, sê dit beteken egter nie dat die maatskappy in die toekoms nie weer hulle aansoek kan indien nie.

No comments:

Post a Comment