Sunday, April 3, 2011

Sasol, Falcon en Bundu tree óók toe tot stryd om Karoo se gas

www.rapport.co.za/


Dit is nie net die internasionale oliereus Shell wat sy visier op die Karoo het nie.
Drie ander maatskappye ding ook mee om regte om vir gas te boor. Dis egter nie net daardie ongerepte stuk landskap waardeur binnelanders reis onderweg na ’n Kaapse vakansie wat in die gedrang is nie.

Klik op die map om te vergroot
Die hele geologiese gebied bekend as die Karoo-kom – in werklikheid die bodem van ’n oersee wat twee derdes van die huidige Suid-Afrika beslaan het – is hier ter sprake.
En werkgeleenthede in die arm gemeenskappe van die Karoo en elders in Suid-Afrika is die jongste twispunt.
Shell Suid-Afrika het by die Petroleum Agentskap van Suid-Afrika (Pasa) aansoek gedoen om agt boorgate in drie Karoo-gebiede te sink. Die beplande eksplorasie sal oor ’n gebied van altesame 90000m² plaasvind.
Die drie ander maatskappye wat in die Karoo-kom na gas wil soek, is Sasol, Falcon Oil en Bundu Gas and Oil Exploration.
Omgewingsbewaringsgroepe voer tans ’n hewige stryd teen Shell om te verhoed dat die maatskappy die omstrede metode van hidrouliese rotsbreking (fracking) gebruik om na gas in die Karoo te soek.
Hidrouliese breking behels dat onder meer sand en chemikalieë teen geweldige druk in boorgate gepomp word om krake in rotsformasies te breek waardeur ondergrondse gas vinniger na die boorgat kan vloei. Die groot vrees is dat die chemikalieë grondwater of selfs die lug kan besoedel.
Sasol, Falcon en Bundu het nog nie aangedui of hulle ook oorweeg om hidrouliese breking te doen nie.

Jonathan Deal
Mnr. Jonathan Deal, sameroeper van die ▪Treasure the Karoo-aksiegroep▪ (TKAG), sê: “Ons gaan nie toelaat dat enige maatskappy fracking hier (in die Karoo) gebruik nie.”
Oor die werkgeleenthede wat die gas-eksplorasie kan bring, sê Deal: “Daar moet eerder in groen-energie (wind- en sonkrag) belê word. Dit sal volhoubare energie én werkgeleenthede verseker.”
Hy meen net stedelinge sal baat vind by enige volskaalse boorwerk. Hy is veral besorg oor die lot van plaaswerkers wat hul werk gaan verloor op plekke waar boerdery weens gas-eksplorasie gestaak sal word.
Hy meen voorts enige werkgeleenthede wat wel geskep word, sal nie volhoubaar wees nie omdat die gasbronne weldra uitgeput sal word.
Deal en die omgewingsaktivis Lewis Pugh gaan oormôre by Tuynhuys in Kaapstad ’n beswaarskrif teen Shell se Karoo-planne aan ’n verteenwoordiger van die presidensie oorhandig.

No comments:

Post a Comment