Friday, April 1, 2011

‘Manna uit hemel’ kan SA erg knou

www.beeld.com





"Suid-Afrikaners is dit aan hul land en aan hul kinders verskuldig om soveel lawaai moontlik te maak oor die ontwikkeling van skaliegasbronne in Suid-Afrika" 
 Carin Bosman

Nie alle energie-oorloë – soos dié in Libië of Irak – word met vegvliegtuie en Tomahawk-missiele gevoer nie.

Suid-Afrika is die afgelope maand gebombardeer met ’n swetterjoel aansoeke van verskeie bekende en minder bekende multinasionale oliemaatskappye, almal vir die prospektering van skaliegas in Suid-Afrika se skalieryke Karoo-supergroep-gesteentes, wat ondergronds heel verder strek as net die Karoo.

In een week in Februarie het Shell, Statoil, Sasol, Falcon Oil, Advasol en die Chesapeake-energiekorporasie aansoeke ingedien by die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (Pasa) om te prospekteer vir skaliegas in die Vrystaat, Oos-Kaap, Suid-Kaap, Karoo en KwaZulu-Natal.

En verlede week het CopaNet, ’n nuwe, onbekende maatskappy, aansoek gedoen om prospekteerregte op 300 000 ha tussen Louis Trichardt en Musina. Suid-Afrika het oornag die wêreld se nuutste “energiebron” geword. Ongeveer 10% van die totale oppervlakte van Suid-Afrika word deur hierdie aansoeke geraak.

Ook weens die dreigende kernramp in Japan is die debat oor alternatiewe energiebronne wêreldwyd witwarm. Oppervlakkig beskou lyk die ontwikkeling van skaliegasbronne in Suid-Afrika na manna uit die hemel omdat ons vertel word dat hierdie aardgas “skoon, volhoubare energie” sal verskaf.

Maar ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Multinasionale maatskappye is bloot op kapitalistiese beginsels gegrond en het nie ’n plaaslike gewete nie. Regulering van dié maatskappye se bedrywighede is nodig om menseregte te beskerm, maar dit impliseer dat voorkomingsmaatreëls getref moet word wat minder wins vir aandeelhouers beteken.

En waar die wetgewing wat menseregte beskerm, ontbreek of nie toegepas word nie, ontstaan konflik op plaaslike vlak wanneer die maatskappye se bedrywighede mense se lewe nadelig begin raak.

Wat sê ons Grondwet?
Die Handves van Menseregte in die Grondwet is gegrond op sosiaal-demokratiese beginsels wat die res van die wêreld ver vooruit is. Veral art. 24 is briljant geskryf en iets waarop elke Suid-Afrikaner trots kan wees:

  • Elkeen het die reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir sy gesondheid of welstand is nie; en
  • Elkeen het die reg dat die omgewing beskerm moet word tot voordeel van huidige en toekomstige generasies, deur redelike wetlike en ander maatreëls wat besoedeling voorkom, bewaring aanmoedig, en ekologiese volhoubare ontwikkeling en gebruik van natuurlike hulpbronne verseker terwyl regverdigbare ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling aangemoedig word.
Dit is ’n mondvol en daarom gee art. 2 van die Nasionale Omgewingsbestuurswet meer duidelikheid oor wat presies met volhoubare ontwikkeling en omgewingsbestuur bedoel word deur 25 volhoubaarheidsbeginsels uit te stippel. Hierdie beginsels verbind die staat (insluitend Pasa) daartoe, en die Wet op Mineraal- en Petroleum-hulpbronne is ook daaraan onderworpe. Alle ontwikkelings van mineraal- en petroleumhulpbronne moet voldoen aan dié beginsels. Die skending van een van die beginsels impliseer die skending van ons menseregte.

Volhoubaarheidsbeginsels
In al die skaliegas-projekte blyk dit dat die gasontginning deur middel van ’n tegniek bekend as hidrobreking beoog word. Hidrobreking is nie, soos Shell se dokumente ons wil laat verstaan, ’n “beproefde proses wat oor 60 jaar in duisende gate getoets is” nie. Dit is nuwe, ongetoetsde tegnologie en op plekke waar dit reeds toegepas is, het dit gelei tot groot omgewingskade, veral waterbesoedeling.
Die Oscar-benoemde dokumentêr Gasland lewer ontstellende getuienis van hoe vinnig en wydverspreid die skade kan wees. Weens die groot risiko verbonde aan hidrobreking is ’n moratorium in verskeie lande, soos Kanada en Frankryk, daarop geplaas, asook deur Amerikaanse deelstate, insluitend New York, Pennsilvanië, New Jersey en Arkansas.

Die volhoubaarheidsbeginsels in die Suid-Afrikaanse wetgewing behoort soortgelyke skade hier te voorkom. Daar is byvoorbeeld die beginsel van voorkoming, wat vereis dat alle impakte na behore geëvalueer moet word en dat die aktiwiteit slegs kan voortgaan as dit duidelik is daar geen nadelige gevolge vir mense se gesondheid of welstand is nie en daar g’n langtermynskade aan die omgewing sal wees nie. Die wetgewing vereis dus dat Shell ’n omgewingsimpakstudie doen wat teen 14 April by Pasa ingedien moet word vir evaluering. Pasa sal daarna ’n aanbeveling aan die departement van energie doen oor die goed- of afkeuring van die aansoek. Maar nog voordat Pasa die impakstudie onder oë gehad het, sê me. Jennifer Marot, geologiebestuurder van Pasa, glo reeds aan die parlementêre energiekomitee dat dit “onwaarskynlik” is dat grondwater beïnvloed sal word solank “hoë standaarde gehandhaaf word in die sementseëls van die boorgate”.

Soos mnr. Jonathan Deal van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) tereg opmerk: “ ’n Mens wonder waarom, as Eerstewêreld-lande die praktyk stopsit, die Suid-Afrikaanse regering en Pasa hoegenaamd aansoeke ontvang en oorweeg.”
Die antwoord lê waarskynlik in die huidige stryd in die ANC-regering tussen die suiwer kapitaliste (soos vergestalt deur die sogenaamde tenderpreneurs)en die sosiaal-demokrate, van wie daar blykbaar maar min oor is. Die oliemaatskappye word ondersteun deur die kapitaliste in die regering, veral aangesien Petro SA ’n 10%-aandeel in skaliegas-eksplorasie sal verkry en dat nog 10% toegeken gaan word aan “bemagtigingsvennote” van die suksesvolle eksplorasiemaatskappye.
Pasa, wat as beoordelaar van die aansoeke veronderstel is om onafhanklik te wees, sien geen probleem met hidrobreking nie. Dit is wat gebeur as die staat sowel speler as skeidsregter is.

Die Haliburton-konneksie
Die rede waarom die praktyk tot soveel skade in die VSA gelei het, is die sogenaamde “Haliburton-skuiwergat” in die Amerikaanse energiewet van 2005. Daarkragtens hoef maatskappye wat hidrobreking beoefen nie aan die vereistes van die Clean Water Act te voldoen nie en het die Amerikaanse omgewingsbeskermingsagentskap (EPA) geen magte oor die regulering van hidrobreking nie.

Hierdie vrystelling is in die wet ingesluit op aandrang van mnr. Dick Cheney, in daardie stadium visepresident van die VSA, wat van 1995 tot 2000 voorsitter van die oliemaatskappy Haliburton was – die staat as speler en skeidsregter. Eers nadat die praktyk skade in die VSA veroorsaak het, het die EPA verlede jaar ’n studie begin om die uitwerking van hidrobreking op die omgewing te bepaal. Dié studie sal eers in 2014 voltooi wees.
Dit is kommerwekkend dat Haliburton Shell se voorkeur-bedryfsvennoot is. Korrupsie-ondersoeke deur die Amerikaanse departement van justisie teen Shell en Haliburton is tans aan die gang oor hul bedrywighede in Nigerië sedert 2004. Cheney (wat steeds ’n salaris van Haliburton ontvang) was as senator in die 1980’s ten sterkste gekant teen die vrylating van oudpres. Nelson Mandela.

’n Mens kan maar net wonder in watter mate die kapitaliste in die regering bereid is om hul vryheidstrydbeginsels prys te gee wanneer dit blyk dat Shell ook hier beoog om Haliburton as sy vennoot te kies om aan hul “beste bedryfsstandaarde” te voldoen.
Sou die oliemaatskappye en die kapitaliste in die regering suksesvol wees, sal Suid-Afrika se kinders amper 10% van hul grondgebied kwyt wees en daarmee saam die waterbronne, weiding, voedselsekerheid en ongereptheid van die gebiede wat dié maatskappye in die visier het.
Die oliestormloop in Suid-Afrika is nou nog net ’n papier-en-praat-skermutseling en dit is nog nie nodig dat ons Oupa se .303 agterop die bakkie moet gaan staanmaak nie. Maar ons moet wel ons stemme dik maak en aandring op behoorlike ondersoeke na en die gebruik van alternatiewe soos wind- en son-energie en op ’n verbod op hidrobreking tot wanneer die Amerikaanse studie afgehandel is.

Ons is dit aan ons land en aan ons kinders verskuldig.
  • Carin Bosman is ’n onafhanklike volhoubaarheids- en omgewingsbestuurraadgewer met meer as 20 jaar ervaring. Sy spesialiseer in waterbronbeskerming en afvalbestuur.

No comments:

Post a Comment