Tuesday, April 5, 2011

Verbied breking, vra Karoo-aksiegroep

www.landbou.com





deur Amelia Genis

Die aksiegroep Treasure the Karoo het die Regering vandag amptelik versoek om ’n verbod te plaas op alle planne om skaliegas met behulp van hidrouliese breking in Suid-Afrika te soek. In sy geskrewe beswaar teen die aansoek van die Shell Exploration Company om met behulp van die omstrede tegnologie hidrouliese breking (“fracking”) na aardgas in die Karoo te soek, doen die aksiegroep onder leiding van mnr. Jonathan Deal, ʼn beroep op die owerhede om onmiddellik ʼn verbod te plaas op alle planne van Shell of enige ander onderneming om sulke eksplorasie te onderneem.



Jonathan Deal

As alternatief vra die aksiegroep dat ʼn langtermyn-moratorium geplaas word op hidrouliese breking tot tyd en wyl ál die risiko’s en moontlike gevolge, veral in die geval van waterbronne en openbare gesondheid, in ʼn internasionale en nasionale verband deeglik ondersoek is.
Volgens die aksiegroep is sulke optrede noodsaaklik omdat die land nóg ʼn beleid het oor die aanwending van hidrouliese breking nóg die vermoë om die voorwaardes vir goedkeuring af te dwing.

Deal, nasionale woordvoerder van die aksiegroep, en die omgewingsaktivis Lewis Pugh het vanoggend in Kaapstad ʼn afskrif van die dokument aan die kantoor van die President in Tuynhuys oorhandig. Verteenwoordigers van hoofsaaklik landelike gemeenskappe wat deur die eksplorasie geraak sou word, was ook teenwoordig.
Die dokument is saamgestel deur dr. Luke Havemann van die Kaapstadse regsfirma Havemann Geïnkorporeer wat in energiesake spesialiseer, prof. Jan Glazewski van die Instituut van Marine- en Omgewingsreg aan die Universiteit van Kaapstad, en die omgewingskundige me. Susie Brownlie.
Die aksiegroep se grootste kommer is die gebrek aan betroubare en voldoende inligting oor hidrouliese breking internasionaal, en in Shell se konsep- omgewingsbestuursplan in die besonder. Dit maak ʼn rasionele en beredeneerde besluit feitlik onmoontlik, veral ten opsigte van die moontlike koste daarvan vir die land.
Ander kwellings is:
• Shell se vaagheid wanneer dit kom by die waterbronne wat hy sal benut in ’n deel van Suid-Afrika wat beperkte waterbronne het.
• Die moontlike, ernstige, nadelige uitwerking op die gesondheid van mense en ekostelsels weens die moontlike besoedeling van oppervlak- en ondergrondse water deur die gebruik van moontlike toksiese en gevaarlike chemikalieë.
• Heelparty ontwikkelde lande het moratoriums of ’n algehele verbod op hidrouliese breking geplaas terwyl verdere navorsing gedoen word.
• Shell se aansoek val buite die riglyne van ʼn aantal grondwetlike en nasionale omgewingsbestuursvereistes, insluitende die reg tot ekologies volhoubare ontwikkeling.
• Hidrouliese breking, met skaliegasontginning as die einddoel, is nie noodwendig die optimale of volhoubare grondbenutting vir die unieke Karoo-streek nie. Geen evaluering van ander vergelykbare grondgebruiksopsies is nog op strategiese vlak vir dié gebied onderneem nie.
• Die moontlike ongunstige uitwerking van hidrouliese breking op die unieke karakter van die Karoo, met sy groeiende landbou- en toerismesektore, landelike lewenstyl en die beweging na gelykwaardige ontwikkeling.

No comments:

Post a Comment