Friday, April 15, 2011

Boordery in Karoo het al skeefgeloop

www.landbou.com

"En watter kans, dink jy, het 'n boer om, as hy skade sou kry, hom teen die oliemaatskappye in 'n hof te verweer?"


Deur Theuns Botha
Met die vrese oor die gevaar van waterbesoedeling indien daar vir gas in die Karookom geboor word, vertel 'n gewese Soekor-man wat 44 jaar gelede op 'n plaas by Aberdeen skeefgeloop het.


Tydens die onlangse vergaderings om die mening van die publiek oor die voorgestelde soeke na skaliegas in die Karookom in te win, het Shell op elke vergadering benadruk dat sy prosesse "baie veilig" is. Want, het sy kundiges - wat spesiaal uit Amerika, Kanada, Nederland en China gekom het om die vrese van Suid-Afrikaners te besweer - gesê, "die gate word bekis namate die boorpunt deur die verskillende rotslae die aarde binnedring. Dit beteken dat waterare wat raakgeboor word, dadelik verseël word".
Die fliek 'Split Estate' is nou op DVD
Dan het hulle met grafieke getoon dat geen akwifeer voorkom op die diepte waarop die hidrouliese breking gaan plaasvind nie. "Daar bestaan dus géén gevaar dat die giftige chemikalieë" wat in die brekingsproses gebruik word, na die oppervlak kan syfer nie," is gepaai. En wanneer hulle uitgevra is oor die video's Gasland en Split Estate waarin die gevare van hidrouliese breking belig word, was die standaard antwoord: "Die probleme kom slegs voor waar die regte prosedure nie met die bekisting van die boorgate gevolg is nie. Shell is nie een van hulle nie."
Dié opmerking het mnr. André Els (66) van Cotswold in Port Elizabeth, wat van 1966 tot 1972 as 'n moddertegnoloog vir Soekor (die Suidelike Olie-eksplorasiekorporasie) gewerk het, laat stik. "Julie praat onsin. Julie weet nie hoe lyk die onderaardse geologie van die Karookom nie. Die grafiek wat julle vir ons voorhou om te verduidelik waarom die ondergrondse water nie besoedel sal word nie, kom van Amerika. Daar is geen rede om te glo dat die aardkors in die Karoo net so lyk nie."
Met Landbouweekblad se besoek aan Els se huis om meer te hoor oor wat op Skietfontein, Aberdeen, skeefgeloop het waar Soekor (nou bekend as PetroSA) in 1967 vir olie geboor het, haal hy sy foto-album te voorskyn. Hy was toe net 22 en dit was sy taak om drie keer per dag die modderwater in 'n laboratorium te toets en die besonderhede van die rotslae met simbole in 'n logboek aan te teken. Deel van sy werk was om die modder se viskositeit te toets asook die jelsterkte van
die klei aan die wand van die boorgat. Hy verduidelik dat die water wat by die boordery gebruik word, vooraf met bentoniet (klei) vermeng word om die viskositeit te verhoog sodat die gruis in die gat na die oppervlak gebring kan word. Om die regte soortlike gewig te verseker, word die bentoniet op sy beurt met chemikalieë, waaronder ferrochroom-lignosulfonaat, seepsoda en bariet, gemeng.
Teen die tyd dat Soekor op Aberdeen begin boor het, was hy reeds onsuksesvol om olie te vind met die gate wat by Merweville, Sutherland, Williston, Fraserburg en Murraysburg gesink is. "Daar was sommer uit die staanspoor probleme met die gat op Skietfontein, wat ook die diepste gat (6 583 meter) tot in daardie stadium in die land was. Die skalie het ingetuimel. Nog voor die voering in die gat geplaas kon word, het die vloeistof wat ingepomp is, net eenvoudig in die aarde verdwyn. Op 'n diepte van 3 000 meter het daar skielik baie water in die gat begin opstoot. Om die wand van die gat te seël en 'n mat te vorm voordat die bekisting weer ingeplaas kon word, is grondboontjiedoppe, sonneblomsade en sellofaan in die gat afgegooi.

"Drie weke later het ek 'n oproep van een van Soekor se regsmense in Johannesburg gekry. Die man vertel toe dat 'n boer by Klipplaat, wat 37 kilometer is van die plek waar ons boor, iets vreemds in sy fonteinwater opgemerk het. Ek het die regsman by die lughawe in die Baai gekry en hom na die boer se plaas gebring.
Op die plaas aangekom, het ek die water getoets en dadelik besef dat dit die ferrochroom-lignosulfonaat was wat die fonteinwater verbruin het. "Die konsentrasie van die chemikalieë was laag en het nie gevaar vir diere inhou nie, maar die water was nie geskik vir menslike gebruik nie." Hy vat aan sy voorkop. Daar is 'n vonkel in sy oë. "Jy weet, dit was destyds die Nasionale Party wat aan bewind was. En hulle wou nie gesien word as iemand wat met die boere se water lol nie. Die regsman het gesê ek moet in die motor gaan sit. Hy en die boer is die huis in. Wat daar in die voorhuis vir mekaar gesê is, sal net hulle weet."

Els, wat tans 'n konsultant vir maatskappye is wat boorwerk doen, sê hy is onlangs met sy aankoms by die vergadering in die Baai dadelik deur 'n verteenwoordiger van Golder Associates voorgekeer, wat vir hom vertel het dat hulle geen rekord van die gebeure op Skietfontein kon vind nie. Sy antwoord was dat daar ook nie so 'n verslag sal wees nie. "Dink jy die regering van destyds sou erken het dat die boordery waterbesoedeling tot gevolg sou hê?"
Els, wat - nadat hy by Soekor bedank het - by verskeie boorprojekte in onder meer Namibië, Iran, die Noordsee en Duitsland betrokke was, sê dit is vir hom ondenkbaar dat die Regering die aansoeke van die maatskappye wat vir gas in die Karoo wil boor, kan oorweeg.
"Gaan kyk wat met die boor vir skaliegas in Louisiana in Amerika gebeur het. Gaan kyk wat Shell in Nigerië aangevang het. "In Duitsland, waar ons in 1973 vir swaelwaterstof (dit word in kunsmis gebruik) hidrouliese breking gedoen het, het van die gas ontsnap en moes 'n hele dorpie se mense inderhaas ontruim word."
Hoewel hy toegee dat nuwe boortegnieke en chemikalieë deesdae gebruik word, meen hy dat al word goeie voorsorgmaatreëls getref, die gevaar van water-, grond- en lugbesoedeling groter is as enige voordeel wat met die ontginning van die gas verkry sal word. "En watter kans, dink jy, het 'n boer om, as hy skade sou kry, hom teen die oliemaatskappye in 'n hof te verweer?"

No comments:

Post a Comment