Sunday, April 17, 2011

Skaliegas 'net verplasing van besoedeling'

www.landbou.com

Shell wou egter nie sê of dit moontlik sal wees om R60 miljard in 'n trustfonds te sit as voorsorg teen enige skadevergoeding nie


Deur Theuns Botha
Platinum het die wêreld se stede skoongemaak, maar die inwoners van Rustenburg het met die besoedeling agtergebly. Dieselfde lot wag op die Karoo indien daar vir skaliegas geboor sou word. Die "skoon" natuurlike gas sal in die stede verbrand word, maar die Karoo sal met die
verkeer van die vragmotors sit, sê mnr. Chris de Bruyn, 'n omgewingsaktivis van Rustenburg.

De Bruyn het op 'n vergadering in Port Elizabeth waar Shell se planne vir die ontginning van skaliegas in die Karookom bespreek is, gewaarsku dat die openbare druk om nie die boorwerk toe te laat nie, nog lank gaan aanhou en regsgedinge die proses kan uitrek. "Ek is oortuig dat Shell die emosie agter die saak heeltemal onderskat het," het De Bruyn aan Landbouweekblad gesê.
Die verteenwoordigers van Shell is op die vergadering, wat deur sowat 60 mense bygewoon is, uitgelag toe hulle aangedui het dat hulle ook die moontlikheid kan oorweeg om suurwater wat uit myne kom en tans Johannesburg bedreig, in die hidrouliese breking te gebruik. " 'n Voorstel dat hulle by die bou van damme in die Karoo betrokke sal raak in geval die ondergrondse water deur hul prosesse besoedel word, is as 'n voorstel in die omgewingsbestuursplan opgeneem. Die verteenwoordigers van Shell wou egter nie sê of dit moontlik sal wees om R60 miljard in 'n trustfonds te sit as voorsorg teen enige skadevergoeding nie.
Verskeie sprekers wat daarop aanspraak maak dat hulle plaaswerkers van die Karoo verteenwoordig, het aangedui dat hulle hul siening regstreeks aan die Petroleumagentskap van SA gaan oordra, aangesien hulle nie genoegsaam geken is in die vergaderings wat tot dusver gehou is nie. Hulle wou egter nie aandui of hulle vir of teen die beoogde soeke na aardgas is nie.

No comments:

Post a Comment