Monday, April 11, 2011

Skaliegas: Deursigtigheid is noodsaaklik

www.landbou.com/

Theuns Botha en Marleen Smith

Ja, skaliegas IS groener as olie en steenkool, en ja, daar IS glo maniere om dit betreklik veilig te ontgin, maar dan moet die nodige regulering bestaan en die publiek moet weet watter chemiese stowwe in die hidro-brekingsproses gebruik word.




So lyk 'n boorput in die staat New York, Amerika

In die vier jaar tussen 2005 en 2009 is meer as 32 miljoen gelling diesel of vloeistof wat minstens 30% diesel bevat, as 'n hidrobrekingsmiddel in boorgate in 19 Amerikaanse state ingepomp, het 'n nuwe ondersoek deur die Amerikaanse kongres getoon. Geen regeringsreguleerder het 'n permit daarvoor uitgereik nie. Om die waarheid te sê, nie een van die maatskappye wat die dieselgebruik het, het om so 'n permit aansoek gedoen nie, wat klaarblyklik 'n oortreding van die land se wet vir veilige drinkwater is.
Só lui 'n ope brief wat die drie kongreslede wat die ondersoek gedoen het, onlangs aan hul amptelike agentskap vir omgewingsbewaring, die Environmental Protection Agency (EPA), gestuur het.

Dirty Dick Cheney
Een van die beweerde oortreders wat in die brief uitgesonder word, is die multinasionale maatskappy Haliburton, na wie die sogenoemde Haliburton-skuiwergat in Amerikaanse energiewetgewing vernoem is. Halliburton word in die ope brief daarvan beskuldig dat hy reeds meer as 7 miljoen gelling diesel of diesel-bevattende hidro-brekingsmiddel gebruik het.
Die omstrede skuiwergat het sy ontstaan te danke aan wetgewing wat in 2005 aanvaar is toe die ewe omstrede mnr. Dick Cheney, toe 'n voormalige uitvoerende hoof van Halliburton, Amerika se vise-president, in die George Bush-administrasie was. Die 2005-wet het die EPA in
wese ontneem van die mag om hidrobreking, 'n proses wat Halliburton in die 1940's ontwikkel en sedertdien verfyn het, op federale vlak te reguleer. In die wet is die proses van hidrobreking vrygestel van die wetsvereistes wat veilige drinkwater vir Amerikaners moet verseker.

Die skuiwergat bring mee dat die maatskappye wat die breking doen, nie verplig is om die chemiese stowwe bekend te maak wat hulle diep in die grond inpomp om die rots te help breek en die skaliegas vry te stel nie. Die maatskappye beweer weer op hul beurt dit is vertroulike patentreg-inligting wat hulle nie aan mededingers bekend wil maak nie.
Te midde van letterlik duisende klagtes van veral beweerde waterbesoedeling weens hidrobreking, is daar toenemend pogings vanaf politieke kant om die Haliburton-skuiwergat te sluit. Die sogenoemde Frac-konsepwet ("Fracturing Responsibility and Awareness of Chemicals Act") wat dit sal bewerkstellig, is pas opnuut vir oorweging by die kongres ingedien. In die Amerikaanse staat Texas oorweeg die regering nou 'n nuwe konsepwet wat die energiemaatskappye sal verplig om die chemiese inhoud van hul hidrobrekingsvloeistowwe bekend te maak.

Nie alle bewaringsgesindes is in beginsel heeltemal teen die gebruik van hidrobreking gekant nie, maar die algemene siening is dat skaliegas-ontginning, soos dit nou gedoen word, groot omgewingsgevare inhou omdat dit nie behoorlik gereguleer word nie.
Worldwatch, die gerespekteerde Amerikaanse instituut wat sedert 1974 wêreldomgewingskwessies ondersoek, het bevind dat skaliegas-ontwikkeling "betekenisvolle omgewingsrisiko's" inhou. Dit sluit in foutiewe boorgatkonstruksie, sogenoemde "blow-outs" wanneer gas en boorvloeistof onder hoe druk per abuis uit die boorgat die lug in spuit en die lug en grond besoedel, en bogrondse besoedeling weens lekplekke en die storting van brekingsvloeistowwe en afvalwater.
Die grootste risiko is swak gehegte staalwande wat die gas van vlakker grondformasies moet afsluit, en die lekplekke en bogrondse stortings, het Worldwatch bevind. Die instituut wys terselfdertyd daarop dat die nodige tegnologie en beheermaatreëls wel bestaan om hierdie risiko's te bestuur. Die probleem is egter dat dit net deur "party produsente op party plekke" gebruik word. Oor of die Suid-Afrikaanse Regering gerat is om skaliegas-ontginning beter as die Amerikaners te reguleer, kan maar net bespiegel word omdat dit 'n eerste sal wees.

Gareth Morgan
Mnr. Gareth Morgan, DA-parlementslid en woordvoerder oor water- en omgewing-sake, het opnuut vir 'n moratorium op die toestaan van gas-eksplorasieregte gevra. Volgens hom is die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (Pasa), wat aanbevelings oor die permitte moet maak, 'n
klein agentskap met 'n "minuskule" personeelkorps en begroting wat nie eens vir die volgende twee jaar genoeg is nie. Pasa is nie in staat om "'n behoorlik oorweegde besluit te neem oor aansoeke wat oor grondgebied groter as 200 000 km² strek nie". Boonop het die agentskap geen ondervinding van die gesofistikeerde hidrobrekingsproses nie.

Dr. Johan Loock, 'n geoloog van die Universiteit van die Vrystaat wat reeds 40 jaar in die Karoo werk, ook as amateurpaleontoloog, meen nie daar is 'n groot gevaar dat die beoogde eksplorasie vir skaliegas in die Karoo grondwater maklik van onder af gaan besoedel as die
boorproses korrek verloop nie. Hy benadruk dat hy aan geen kant van die heersende debat staan nie, maar bloot nugter na die feite kyk
Die geografiese teikengebied is waarskynlik op die "stoep" van die Karoo-kom, noord van die verplooide ondergrondse formasies verder suid, wat nader aan die Kaapse berge is, verduidelik Loock, Die ondergrondse lae in die stoepgebied is minder verplooi en word deur die onderste Dwyka-lae, die Ecca-lae bo-op hulle, en die Beaufort-Iae bo-op hulle bedek.
Die teikengebied waar skalie gesoek gaan word, is waarskynlik in die onderste Ecca-lae, sê Loock, Verder boontoe, bo-op die Beaufort-lae, is die sowat 100 m grond, verweerde rots en rots met nate waarin die meeste water vir menslike en dierlike verbruik in die Karoo gelee is, en dus ook verreweg die meeste boorgate.
Veel verder ondertoe kom brakwater soms voor, maar daar is digte rotslae wat die onderste water heeltemal van die boonste grondwater afsluit, sê  Loock. Hy weet dat skaliegas in die verlede al uit boorgate by Pearston, Nieu-Bethesda, Loeriesfontein en Springfontein gekom het, maar ontginning is nog nooit gedoen nie.
Wat die ontginningsplanne betref, meen hy dit sal nie wys wees om seewater onder die Karoo in te pomp nie, omdat die sout "vir ewig" daar gaan agterbly. Hy meen egter daar is genoeg water wat jaarliks onbenut in die Oranjerivier verbyvloei om van die rivier af gepomp te word; dan hoef dit nie oor groot afstande in tenkwaens aangery te word nie. Loock meen ook dit sal nie nodig wees om groot getalle eksplorasie-gate te boor om 'n behoorlike aanduiding te kry nie omdat die skalie-lae onder die Karoo betreklik uniform is.
Hy stel sowat drie eksplorasiegate in die vooruitsig, en wys daarop dat daar veel meer selfoon- en kragtorings, telefoonpale en windpompe in die Karoo is. Oor die moontlike bedreiging van onontdekte fossiele sê Loock die meeste Karoofossiele kom in die Beaufort-lae voor, en dit is oor die uitgestrekte Karoo-oppervlakte so dun versprei dat 'n paar eksplorasie-gate "nie die Karoo-paleontologie gaan beduiwel nie".

Nog 'n geoloog, dr. Craig B. Smith, uitvoerende hoof van Suid-Afrika se Geologiese Vereniging, sê die vereniging staan ook nog neutraal in die debat. Hy waarsku teen oorreaksie nog voordat die werklike ontginning-potensiaal bepaal is. Smith is nie oortuig dat daar wel groot hoeveelhede skaliegas gevind gaan word nie omdat die Karoo-kom en die Marcellus skalielaag, waaruit Amerika se skaliegas ontgin word, op verskillende vastelande voorkom. "Die (olie)maatskappye mag inligting hê waarvan almal nie bewus is nie, maar die potensiaal is nog nie bewys nie, en 'n mens kan nie outomaties aanneem dat die gas daar is nie. "Ons kennis van die Karoo-stratigrafie is redelik goed, maar dit moet steeds getoets word, want dit Iê redelik diep." Die een groot verskil tussen die Karoo en die noordooste van Amerika, waar baie skaliegas ontgin word, is die waterbronne, sê Smith. "Die groot vraag is waar die water (vir moontlike Karoo-ontginning) vandaan sal kom. Niemand beoog om die Karoo se akwifere te beskadig nie, en met die bestaande tegnologie kan dit sekerlik voorkom word, maar dis 'n lang ent om seewater te pomp."
Smith wys voorts daarop dat dit nie vir 'n energiemaatskappy ekonomies die moeite werd sal wees om groot getalle eksplorasiegate die Karoo oor te boor nie. Die wat wel geboor word, sal elkeen steeds volgens 'n goedgekeurde omgewingsplan bestuur moet word wat skade tot die
minimum beperk. Intussen word skaliegas algemeen as 'n skoner energiebron beskou as die ander twee fossielbrandstowwe, olie en steenkool, omdat dit minder koolsuurgas vrystel per eenheid energie wat verbruik word.

Die onlangse aardbewing in Japan en bestralingkrisis daar weens skade aan die Foekoesjima Daiitsji-kernkragsentrale, het natuurlike gas opnuut na die bopunt van die keuselys van groen of dan ten minste groener energiebronne geskuif. Dit kom ook te midde van wydverspreide
politieke onrus in die Midde-Ooste en 'n burgeroorlog in Libië, wat groot onsekerheid oor die lande se volgehoue olievoorsiening aan 'n energie-honger wêreld skep.
Die groot vraag uit 'n omgewingsoogpunt bly egter steeds of skaliegas 'n rol te speel het in die oorgang na 'n ekonomie wat minder van koolstof afhanklik is en of dit nie beter sou wees om eerder in werklik hernieubare energiebronne, soos wind en sonkrag, te belê nie. Die jongste
aanduidings is dat daar 'n veel groter voorraad ontginbare skaliegas beskikbaar mag wees as wat vroeër aanvaar is. Dit skep geleenthede vir die gebruik van gas in 'n wye reeks sektore - kragopwekking en vervoer inkluis - om olie en steenkool te help verplaas en kweekhuisgasse so te beperk, lui 'n ander Worldwatch-verslag. Natuurlike gas kan veral help om die probleem van wisselvallige energievoorsiening deur wind- en sonkrag-opwekkers te help oplos.


Talle vrae bly onbeantwoord
Die boodskap op die T-hemde en plakkate tydens die onlangse tweede ronde openbare vergaderings oor Shell se eksplorasieplanne vir skaliegas in die Karoo-kom was ondubbelsinnig: Los die Karoo uit. Grondeienaars, vakbondlede en omgewingsbewustes was onder die belanghebbendes wat Shell, met van sy groot kanonne uit Kanada en Nederland, met vrae gepeper het.
Uit die voorlegging op die vergaderings kry 'n mens die Indruk dat Shell nie vir moeilike vrae
terugdeins nie. Hulle word nie kwaad nie, praat met gesag en erken dat die Karoo 'n spesiale plek vir Suid-Afrikaners is. In duur koerantadvertensies gee hulle die onderneming dat hulle die voortou sal neem om internasionaal aanvaarbare beste praktyke en bedryfsstandaarde vir onkonvensionele gasontwikkeling toe te pas. Só ook dat daar nie met die inwoners om water meegeding sat word nie, dat grondeienaars ten volle vergoed sal word waar bewys gelewer kan word van regstreekse nadelige gevolge en dat die brekingsvloeistowwe wat gebruik word, geopenbaar sal word.
Dit Is egter wanneer hulle deur joernaliste, grondeienaars en regskenners In 'n blik gedruk word om meer spesifiek te wees, wat die vernis afkom. Soos dat daar nog nie toetse gedoen Is nie om te bevestig dat brakwater en seewater inderdaad met die chemikalieë wat vir die hidrouliese rotsbreking nodig is, sal verbind. Of waarvandaan die miljoene liter water vir die brekingsproses sal kom nie. En dat hulle nie die juiste samestelling van die chemikalieë wat in die proses gebruik gaan word, bekend kan maak nie aangesien dit kwansuis "intellektuele eiendom" is. En uiteindelik te erken dat dit onmoontlik Is om absolute waarborge te verskaf dat die brekingsproses geen besoedelingsgevaar inhou nie as iets drasties sou skeefloop, soos nou by die Foekoesjlma Dalitsji-kernaanleg in Tomioka In Japan die geval is.

So sê Oos-Kapenaars

Op die openbare vergadering op Middelburg het mnr. Nico Smuts, bestuurslid van Agri Oos-Kaap, gesê hy is teleurgesteld met die tussentydse omgewingsverslag wat deur Shell se konsultant, Golder Associates, opgestel is. "Alles is vaag en hang in die lug. Daar Is geen aanduiding wat hul plan van aksie is as daar wel besoedeling sou wees nie. Ook nie besonderhede oor hoe hulle die rehabilitasie ná die boordery gaan aanpak nie.
"Agrl SA is nie gekant teen die ontginning van nuwe energiebronne nie. Dit is die proses van hidrouliese rotsbreking wat ons teëstaan. As Shell werklik iets vir die land wil doen, waarom raak hy dan nie by die ontwikkeling van sonkrag en windenergie betrokke nie?"

Mnr. Abbott Erasmus van Paardevlei, Middelburg, meen daar steek vir Shell baie geld in die ontginning van die gas. "Hulle sal hulle nle vir die volgende nege jaar verbind om daarvoor te soek as hulle nie redelik seker was dat hulle sukses gaan behaal nie."

Mnr. Ben Ficks, 'n vakbondverteenwoordiger, sê sy lede is ook gekant teen die planne om vir gas te boor. "Vir 10 jaar kan dit geld na die omgewing bring. In die elfde jaar begin jy dood te gaan. Ons is nie oortuig dat dit in elk geval baie werk gaan skep nie - dalk net vir 'n paar
lorriedrywers. Die toerusting vir die boordery Is in elk geval só gesofistikeerd dat 'n enkele stuk toerusting die werk van honderde mense kan doen. Ons vind dit moeilik om geld teenoor 'n lewe op te weeg."

Me. Gwen Sgwabe van die  Departement van Landbou, Bosbou en Vissery het gesê sy woon die vergadering by om seker te maak dat die landbou nie in die proses benadeel sal word nie.

Die uitwerking van die boordery op die ondergrondse water is mnr. Abrie Joubert van Beswil
se grootste bekommernis. Hy meen alle boere in die Karoo het dieselfde sentimente as hy.

Mnr. Barend de Lange, wat tussen Hofmeyr en Cradock boer, meen egter mense is net emosioneel. "Ek het genoeg water op my plaas. Ek het klaar 'n plek geïdentifiseer waar hulle maar die gat kan sink. Ek wil met die gas ry wat hulle op my plaas gaan ontgin. Hulle hoef my net 5% daarvan te gee. 'n Mens se bakkie kan nie op son- en windkrag ry nie. Dit kan 'n wen-wen-situasie wees om saam met Shell te werk."

No comments:

Post a Comment