Wednesday, March 23, 2011

Shell kontak boere glo een-een

www.dieburger.com






Mariska Spoormaker

Nieu-Bethesda. – Dit wil vir hom voorkom of Karoo-boere nou afsonderlik deur Shell gekontak word om hulle oor gaseksplorasie in die Karoo te oortuig, het mnr. Douglas Stern, voorsitter van die Sneeuberg-landbouvereniging, gesê. Die 48 boere in die vereniging het, nadat Shell se eksplorasie-planne in Februarie bekend gemaak is, mnr. Derek Light van Graaff-Reinet as hul regsverteenwoordiger aangestel.



“Aanvanklik het ek die een-een-storie net as gerugte beskou, maar toe bel ’n verteenwoordiger van Golder Associates (Shell se konsultantegroep) na my huis en vra my vrou, Liz, die kontakbesonderhede van die Sneeuberg-boere.
“Sy het aan hulle gesê om Light te bel. Ons het nooit weer van hulle gehoor nie,” het Stern gesê.
Hy en ander Karoo-grondeienaars het daarop gewys dat Golder-konsultante glad nie met hulle kom praat het voordat die konsep-omgewingsbestuursplan vir gaseksplorasie in die Karoo saamgestel is nie. “Maar noudat hulle kundige weerstand kry, nóú wil hulle skielik een-een met ons praat. Hulle het gedink hulle kan net die advertensies plaas en ons inlig en dan het hulle hul deel gedoen. Ons laat ons nie só stoomroller nie.”

Hidrouliese rotsbreking (fracking), die proses om gas uit die Karoo se skalierotslae vry te stel, verg nie net miljoene liter water nie, maar daar moet ook deur die ondergrondse varswaterbronne geboor word om by die skalie uit te kom. Nog ’n groot bron van kommer vir Stern en ander Karoo-grondeienaars is dat daar nog geen wetgewing in Suid-Afrika is wat rotsbreking ter wille van gaseksplorasie of -ontginning reguleer nie.
Stern is veral bekommerd oor waar die miljoene liter water, vermeng met chemikalieë, geberg gaan word as dit weer uit die boorgate gepomp word. “In die konsep-omgewingsbestuursplan is daar geen duidelikheid wat presies daarmee gedoen gaan word nie. Hoe kan ’n mens sinvolle kommentaar op so ’n vaagheid lewer?” wou hy weet.
Nog ’n aspek wat volgens hom nie volledig uitgelig word nie, “is die helse verkeer wat die Karoo se paaie gaan tref”.

No comments:

Post a Comment