Wednesday, March 23, 2011

Shell is tjoepstil oor gerugte rondom Karoo-brakwater en chemikalieë

www.dieburger.com


“Julle wil ’n trein met 80 tenkers water na jul toetsgate laat aanry, maar ons kan Transnet nie eens so ver kry om ’n kis wyn na ons te vervoer nie.” 

Port Elizabeth - Shell-verteenwoordigers het Vrydag op hul openbare vergadering in Middelburg versuim om gerugte dat Karoo-brakwater dalk tog nie met chemikalieë – nodig vir die hidrouliese rotsbrekingsproses van gaseksplorasie – verbind nie, te bevestig of ontken.
Dié ondergrondse brakwater is nutteloos vir drink- of landboudoeleindes.


Maar dit is noodsaaklik vir Shell se gaseksplorasieplanne in die Karoo, omdat hidrouliese breking (fracking) enigiets tussen een en ses miljoen liter water per ontginningsput verg.
Toe brakwater se verbindingsvermoë bevraagteken is, het mnr. Tony Cortis, Shell-verteenwoordiger, gesê: “Ons het dit nog nie só getoets nie.
“Ons weet nog nie watter chemikalieë met brakwater en watter met seewater sal verbind nie. Monsters sal geneem moet word op plekke waar toetsgate geboor word om te bepaal watter chemikalieë vir die hidrouliese breking gebruik moet word. Dan sal ons moet toets met watter water die chemikalieë sal verbind. Sekere chemikalieë verbind dalk met brakwater en ander met seewater. As dit nie met brakwater verbind nie, sal ons moet water aanry. Dit word dan dalk té duur en is nie ekonomies haalbaar nie,” het Cortis gesê.
Cortis is gevra hoe die water by ontginningsputte gekry sal word. Hy het genoem dit kan dalk per pad of spoor vervoer word. Maar hy is toe gevra wie sal die paaie vir al die vragmotors in stand hou of dit ná afloop van die eksplorasiefase opknap. Cortis se antwoord dat Shell hieroor met munisipaliteite sal onderhandel, het heelwat reaksie in die gehoor ontlok.
Een boer het op die moontlikheid van spoorvervoer gereageer. “Julle wil ’n trein met 80 tenkers water na jul toetsgate laat aanry, maar ons kan Transnet nie eens so ver kry om ’n kis wyn na ons te vervoer nie.”
Van die teenwoordiges wou op ’n ernstiger noot weet hoekom Shell nie die chemikalieë wat hulle in die brekingsproses wil gebruik, bekend wil maak nie. Cortis het geantwoord geen boorwerk sal begin voordat enige omgewinsgimpakstudies goedgekeur is nie. Een van die teenwoordiges het gesê: “Die wet vereis nie ’n omgewingsimpakstudie nie. Hoe kan ons julle dan vertrou?”
  • Terwyl die land se oë op Shell se planne vir gasontginning in die Karoo gevestig is, het minstens vyf maatskappye die ekologies-sensitiewe Limpopo-kom noord van die Soutpansberg vir hidrobreking in hul visier, berig Elise Tempelhoff.

No comments:

Post a Comment