Friday, March 18, 2011

Interdik teen myn van gas?

www.landbou.com





Deur Alani Janeke
Sou die Regering nie ’n moratorium oor die myn van gas in die Karoo instel nie, oorweeg Agri SA dit om om ’n interdik aansoek te doen om dié mynmetode stop te sit.



Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê hulle het die afgelope week op beleidskomiteevergaderings besluit om die Minister van Minerale Energie te versoek om ’n moratorium op die myn van gas en die mynmetode genaamd “fracking” te plaas. Dít volg nadat Shell vroeër vanjaar aangedui het dat hy in dié unieke distrik vir gas wil myn.
Die organisasie het Donderdag (17 Maart) die media in Pretoria toegespreek.
Möller luister na dr. Theo de Jager. Foto: ALANI JANEKE
Möller luister na dr. Theo de Jager.
“Navorsing word tans in Amerika gedoen oor die omstrede metode, en ons gaan vra dat ’n moratorium op eksplorasie in dié verband geplaas word totdat dié studies afgehandel is en meer inligting oor die invloed daarvan op die omgewing en grondwater beskikbaar is. Sou dié moratorium nie toegestaan word nie, is dit bespreek dat Agri SA regstappe en ’n aansoek om ’n interdik in dié verband sal oorweeg,” aldus Möller.

Samewerking met Rupert-groep
Agri SA het ook besluit om met die Rupert-groep, wat vroeër die jaar op ’n vergadering met Shell gestig is, in kontak te tree om te kyk op watter vlakke samewerking tussen die groepe kan plaasvind. Sodoende kan hulle ook saamwerk rakende kommentaar op Shell se aansoek wat teen 5 April ingehandig moet wees.
Verder het die organisasie besluit om persone of organisasies wat kundige raad oor die tegniese prosesse van die natuurlike myn van gas kan verskaf, te identifiseer sodat hulle beter ingelig kan wees. Hulle wil ook meer duidelikheid hê oor die status van gas as ’n moontlike mineraal.
Möller sê hulle gaan binnekort begin om vir die moratorium aansoek te doen.

No comments:

Post a Comment