Thursday, March 3, 2011

Shell: ‘Beproefde tegniek het nooit water besoedel’

www.beeld.com





Elise Tempelhoff

Suid-Afrika ervaar ’n energiekrisis, maar Shell kan met sy beoogde onkonvensionele gasprojek in die Karoo in dié kragbehoefte voorsien. Hidrobreking is die énigste manier om die gas, wat tussen 2 500 m en 5 000 meter onder die grondoppervlak in skalierots opgesluit is, te ontsluit. 


Bonang Mohale
Shell het reeds meer as 1 miljoen gate in die VSA gesink en nêrens kon enigiemand ’n vinger na dié oliereus wys dat hulle met dié “ou en beproefde tegniek” waterbronne besoedel het nie. So het mnr. Graham Tiley, bestuurder van internasionale prospekteringsprojekte, gister in Rosebank, Johannesburg, aan joernaliste gesê. Mnr. Bonang Mohale, vise-president van bemarking van Shell Suid-Afrika, het by Tiley aangesluit en gesê Suid-Afrika sit op feitlik “onuitputbare gasbronne” én op tonne steenkool.

“Steenkool vergroot Suid-Afrika se koolstofvoetspoor. Dis sleg vir die omgewing. Waarom haal ons dan nie die gas uit nie?” het Mohale gevra. Hy het gesê natuurlike gas is 40% meer doeltreffend as steenkool en die koolstofvoetspoor daarvan is minimaal.

Volgens Tiley het die Amerikaanse omgewingsbewaringsagentskap (EPA) aan Shell gesê hulle kon geen fout vind met enige waterbronne nie. “Dis net die state rondom New York wat ’n probleem met dié metode het. Dit is Shell se filosofie om niemand, nie mense nie en ook nie die omgewing nie, skade aan te doen,” het Tiley gesê.
Hy het gesê Shell se omgewingsbestuursplan is pas gepubliseer en meer as 3 000 mense het daarop gereageer. “Nou wag ons nog vir 120 dae vir die regering om te besluit of ons kan voortgaan met die omgewingsimpakproses. “Dit beteken dus nie ons kan net begin boorwerk doen nie. As alles goed afloop, sal ons eers aan die einde van volgende jaar met hidrobreking in die Karoo begin.”
Op ’n vraag oor waar Shell water in die sensitiewe, waterskaars Karoo gaan kry vir die hidrobreking, het Mohale gesê daar is brak (“andersins onbruikbare”) waterbronne baie diep – meer as 2 500 meter onder in die Karookom wat hulle moontlik sal gebruik.

No comments:

Post a Comment