Sunday, March 27, 2011

‘Frack off, Shell,’ sê teenstanders van gasontginning in die Karoo




Deur Julian Jansen / Foto: Danielle Karallis
Die oliereus Shell wil “frack” in die Karoo … Maar al hoe meer mense sê: “Frack jou, Shell!
“Frack” of “fracking” is die term wat gebruik word om die omstrede proses te beskryf wat Shell wil gebruik om na gas te soek in die Karoo. Dit heet in Afrikaans hidrouliese breking.



Protesoptog  in Kaapstad

Dit het begin met ’n taamlik bedeesde slagspreuk op ’n T-hemp wat lui: “Don’t frack with our Karoo.”
Maar tydens ’n protesoptog en openbare vergadering by Nuweland in Kaapstad eergisteraand het dit sommer gou ontaard in “Frack off, Shell” en “Frack you” – sommer op teenstanders van die beoogde projek se hande geskryf.

Sprekers van Shell en Golder Associates is tydens die vergadering telkens deur veral skreeuende studente in die gehoor onderbreek.

Mnr. Lewis Gordon Pugh, die aktivis wat al in die ysige Poolsee geswem het om bewustheid van aardverwarming te bevorder, het aangesluit by die veldtog teen Shell se Karoo-planne. “Ons kan nie toelaat dat korporatiewe gierigheid ons omgewing vernietig nie,” het hy gesê.
"As ons watervoorrade deur fracking beskadig word, sal daar konflik in Suid-Afrika wees. Ons wil nie die Niger-delta, waar Shell miljoene liters olie gestort het, in Suid-Afrika hê nie.”

Shell het ’n aansoek by die Petroleum-agentskap van Suid-Afrika (Pasa) ingedien om 24 toetsboor­gate oor ’n gebied van 90 000km² in die Karoo te sink. Pasa oorweeg nog die aansoek. ’n Konsep-omgewingsbestuursplan (OBP) is beskikbaar vir insette. Die finale OBP moet teen 4 April ingedien word.

Oor werkgeleenthede vanweë die beplande gas-ontginning het Shell nog geen besonderhede verskaf nie. Die vermoede is dat Shell geskoolde arbeid soos boortegnici van elders sal inbring, maar daar kan moontlik geleenthede wees vir plaaslike ongeskoolde werkers sou die ontginning voortgaan. Armoede loop diep in die Karoo-gemeenskappe.
Die bekgeveg by eergisteraand se laaste openbare vergadering was egter hoofsaaklik oor die beskerming van die omgewing en veral grondwaterbronne. Die kwessie van werkskepping is nog nie in die openbaar geopper nie. Volgens omgewingskenners hou hidrouliese breking meer gevare in vir grondwater as ander ontginningsmetodes.

No comments:

Post a Comment