Wednesday, March 30, 2011

Agri SA vra moratorium op hidrouliese rotsbreking

www.dieburger.com/



 


Mariska Spoormaker

Port Elizabeth - Agri SA het regsadvies aangevra sodat dié organisasie bo enige twyfel kan weet of skaliegas kragtens wet as ’n mineraal beskou kan word, het die organisasie se uitvoerende direkteur, mnr.Hans van der Merwe, gesê.
“Ons wag ook op die uitspraak in ’n hooggeregshofgeding teen die staat waarin ons helderheid soek oor of grondeienaars wat hul minerale regte ingevolge die Minerale en Petroleumontwikkelingswet van 2004 verloor het, kan aanspraak maak op vergoeding indien skade of verlies bewys kan word,” het Van der Merwe bygevoeg.


Dít is die jongste draaie in die Karoo se skaliegas-sage waar gasontginningsmaatskappy wil inbeweeg terwyl grondeienaars hulle wil uit hou omdat hulle die vernietiging van hul ondergrondse waterbronne vrees.
“Ons versoek ook die regering om ’n moratorium te plaas op enige vorm van hidrouliese rotsbreking (fracking) ter wille van skaliegas-ontginning totdat onafhanklike wetenskaplike navorsing oor dié bedryf gedoen en daar ordentlike regulering in plek is,” het mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, gesê.
In Amerika word hidrouliese rotsbreking vir die ontginning van skaliegas al 25 jaar sonder beduidende regulering bedryf.

Dit is byna ondenkbaar dat dié brekingsproses, waar daar onder meer tonnemaat chemikalieë ondergronds gepomp word, vir so lank so waghondloos in dié superdemokratiese moondheid bedryf is. Die grootskaalse skade wat dit aan waterbronne, die omgewing en menslike gesondheid in wydverspreide gebiede veroorsaak het, het eers onlangs aan die lig gekom.
In Suid-Afrika is daar geen regulering rondom hidrouliese rotsbreking nie en dít is een van die redes hoekom Agri SA gekant is teen die gebruik van hierdie proses in Suid-Afrika.

No comments:

Post a Comment