Monday, March 28, 2011

‘Ysbeerman’ daag Shell uit


“Kyk maar oral in die wêreld – waar die omgewing beskadig word, volg konflik.”

deur Amelia Genis
’n Voorste kampvegter vir die omgewing het Shell gewaarsku om nie Suid-Afrikaners wat vir die Karoo omgee, te onderskat nie.
Mnr. Lewis Pugh, ’n prokureur wat in seevaartreg spesialiseer, maar beter bekend is om sy swemmery in uiterste omstandighede om die aandag op klimaatsverandering te vestig, is by ’n openbare vergadering in Nuweland, Kaapstad, staande toegejuig oor Shell se konsep-omgewingsbestuursplan.


Lewis Pugh
Pugh het gewaarsku dat die maatskappy se planne om vir skaliegas in die Karoo te prospekteer, Suid-Afrikaners aangehits het.
“As ons moet, sal ons die stryd al die pad van die petrolpompe tot die hoogste hof in die land neem. Ons sal die stryd van die plase en dorpe in die Karoo neem tot in die strate van Londen en Amsterdam, na jul aandeelhouers. Ek glo uiteindelik sal die goeie oor die bose seëvier.”
Sy waarskuwing aan Shell was ook ’n oproep aan Suid-Afrikaners “wat in die skaduwee van Goliat sit” om aan die stryd deel te neem. “Staan op en eis die fundamentele regte wat die Grondwet belowe. Gebruik jul stemme, ‘twiet’, skryf blogs, teken petisies, betrek jul bure en stel jul saak aan die mense wat die besluite neem.”

Hy sê hy het nooit kon dink dat daar ooit in hierdie droë land ’n debat sou wees oor of gas of water die belangrikste is nie. “Ons kan sonder gas oorleef, maar ons kan nie sonder water leef nie.”
Pugh sê as die Karoo se skaars water beskadig word, sal daar weer konflik in Suid-Afrika wees. “Kyk maar oral in die wêreld – waar die omgewing beskadig word, volg konflik.”
Hy het voorgestel dat Shell liewer in hernieubare energie begin belê. “Ons kan ons nie uit die energiekrisis boor nie. Fossielbrandstof se tyd is verby.”
Pugh sê as hy hoor van al die beloftes wat Shell maak, wonder hy hoekom die mense van die Karoo hulle nou moet vertrou, veral in die lig van die maatskappy se “skokkende prestasielys” in Nigerië, waar die maatskappy meer as 9 miljoen vate ru-olie in die Niger-delta gemors het. Dit is dubbel die hoeveelheid olie wat BP in die Golf van Mexiko gemors het.
Daarbenewens is Shell skuldig bevind daaraan dat hy Nigeriese amptenare omgekoop het en ’n skulderkenningsboete van $48 miljoen (sowat R336 miljoen) betaal het om in Amerika van die saak ontslae te raak.
Die maatskappy word ook daarvan beskuldig dat hy medepligtig is aan die teregstelling van Nigerië se voorste omgewingsaktivis, Ken Saro-Wiwa, en agt ander aktiviste. “Ons wil nie hê die Karoo moet ’n tweede Niger-delta word nie.”

No comments:

Post a Comment