Sunday, March 20, 2011

Inwoners slyp hul regsmes vir Shell

Middelburg (Oos-Kaap). – Sou die oliereus Shell se aansoek om eksplorasieregte in die Karoo deur die minister van energiesake toegestaan word, sal inwoners dit op regsgronde teenstaan. Dít het Vrydag duidelik geblyk tydens Shell se openbare vergadering op Middelburg in die Oos-Kaapse Karoo waartydens die konsep-omgewingsbestuursplan vir sy voorgenome gaseksplorasie in ’n gebied van ongeveer 95 000 km² in die Karoo bespreek is.


Gebreke in die openbare deelnameproses, onreëlmatighede in Shell se aansoek om gaseksplorasieregte by die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (Pasa), hul onvermoë om vaste waarborge te gee dat die Karoo se ondergrondse waterbronne nie vernietig sal word nie, gebrekkige studies vir die omgewingsbestuursplan en vaaghede rondom die chemikalieë wat gebruik sal word, is die belangrikste redes wat die beswaardes hul regsmesse laat slyp.

Mnr. Derek Light

Mnr. Derek Light, regsverteenwoordiger van sowat 200 mense wat teen gaseksplorasie of -ontginning in die Karoo gekant is, het gister halfpad deur die vergadering gesê die proses wat Shell en sy konsultantegroep, Golder Associates, tot dusver gevoer het, is onwettig. Hy het die meeste van bogenoemde punte toegelig met uiteensettings ter stawing van sy aantygings. Direk ná die vergadering het talle Karoo-boere, wat ook lid van Agri Oos-Kaap is, buite die saal vergader. Ná konsultasie met die bestuur van Agri SA is die besluit deurgegee dat hulle teen die proses is en dat hul regspan vorentoe saam met Light gaan werk.

“Ingevolge wet moes Shell die mense wat geraak kan word deur gaseksplorasie kennis daaroor gegee en volledig daaroor ingelig het sodat hulle op grond van die inligting kommentaar kan lewer.  Dit het nie gebeur nie,” het Light aan die teenwoordiges uitgewys.

Verder beskou hy vanuit ’n regsoogpunt die uitlating deur Golder Associates, dat Pasa die wetlike vereistes met betrekking tot die omgewingsbestuursplan vir doeleindes van hierdie aansoek verslap het, in ’n baie ernstige lig, het hy aan die vergadering gesê.

No comments:

Post a Comment