Saturday, March 26, 2011

Hidrouliese rotsbreking? WAT OP AARDE IS DIT?

www.beeld.com





Carin Bosman

Shell, asook verskeie ander maatskappye, verdring mekaar om ondergrondse gas in die Karoo te ontgin. Mense is egter bekommerd dat dié proses die water en grond onherstelbaar sal besoedel.
Wat behels hidrouliese rotsbreking (‘fracturing’ of ‘fracking’ in Engels) nou eintlik? ‘Hidrobreking’ is ‘n Amerikaanse metode om diep ondergrondse rotsformasies uitmekaar te splits. Miljoene liters water, sand en chemikalieë word vir dié doeleinde, onder vreeslike hoë druk, die aarde ingepomp. Dit veroorsaak breuke in die rotsbed, waardeur die gas kan ontsnap. Dié gas word natuurlike gas of skaliegas genoem, maar is eintlik niks anders as metaangas nie.
Dié gas wat hulle so naarstiglik wil myn, word gewoonlik gebruik in verhittingsprosesse, maar kan ook aangewend word in die ‘maak’ van elektrisiteit. Boonop kan spesiaal aangepaste voertuie metaangas as brandstof gebruik.

Wil ons hê dat die Karoo só gaan lyk?
Hoekom is almal dan so bekommerd?
In Amerika, waar dié hidrobreking-tegniek nou al geruime tyd gebruik word, steek groot en lastige probleme kop uit. Blootstelling aan die chemikalië wat in die proses gebruik word is ongelooflik gevaarlik.
Die bekendste studiegeval wat deur die VSA Regerings-waghond aangemeld is, al in 2008, is dié van ‘n verpleegster van Colorado wat amper dood is aan orgaanversaking, nadat sy ‘n werker wat in “fracking”-vloeistof beland het moes behandel. Selfs op die randjie van die dood gehuiwer het die betrokke maatskappy geweier om die samestelling van die chemikalië bekend te stel. Sy weet nou nog nie waaraan sy blootgestel is nie…
Sedert 2004 is daar meer as 1000 insidente van waterbesoedeling deur chemikalië en/of metaangas, as gevolg van hidrobreking, aangemeld in die VSA state Pennsilvanië, Colorado, Ohio, New Mexiko en Arizona. Hierdie chemikalië is hoogs geheim omrede geen maatskappy wil hê (sê hulle) die oposisie moet weet wat presies húlle gebruik nie.

Watter probleme word deur hidrobreking veroorsaak?

Die hidrobreking tegniek vereis die gebruik van grootskaalse toksiese chemikalieë en plofbare gasse, alhoewel dit 'n klein persentasie van die grootliks water-en-sand aard inspuiting uitmaak.
Blootstelling aan die chemikalieë kan ernstige gesondheidsprobleme in beide mense en diere tot gevolg hê. Aangemelde gevalle sluit in: kanker, pyn in die hele lyf, onverklaarbare haarverlies en kneusplekke, asook ulkusse, om net 'n paar te noem.
Sommige gevolge is onmiddellik en dramaties sigbaar: Huise en boorgate wat ontplof en water wat swart en heeltemal ondrinkbaar word kort nadat hidrobreking in die omgewing begin het. In sommige streke is die watertafels so besoedel met metaangas dat kraanwater spontaan aan die brand slaan wanneer ‘n vlammetjie naby gehou word.
Sommige van die chemikalieë wat gebruik word vir hidrobreking is reuk- en kleurloos: lewensgevaarlik selfs in klein hoeveelhede. 'n Mens sal dus nie eens weet of jy iets skadelik drink of inasem nie.
Voorts is daar bitter min laboratoriums in die land wat ingerig is om te kan toets vir sulke lae konsentrasies chemikalie nie. Bensien kan leukemie, ‘n kanker van die bloedselle, veroorsaak.
Onafhanklike navorsers het bevind dat die drinkwater van groot dele van Amerika (sowel as Australië en Kanada) lank reeds met chemikalieë en metaangas besmet is…

Water wat besmet is, kan nooit weer gebruik word nie. Nooit, ooit weer nie. Nie vir stort nie en nie eens vir klere-was nie. Tonne chemise stowwe wat bestaan uit onbekende konsentrasies en variasies word in hidro-resepte gebruik. Uit die aard van die saak kan dit lewensgevaarlik vir mens, dier en plantegroei wees.
Simptome sluit moegheid, lighoofdigheid disoriëntasie, kwaadaardige gewasse, misvormdheid in ongebore babas in, en ook orgaan- en breinskade is aangemeld. Diegene met ‘n verswakte imuunstelsel (soos veroorsaak deur HIV/AIDS)is natuurlik die meeste blootgestel.

Kommer in Amerika
Gedurende die proses kom die meeste van die water en chemikalieë (tussen 40 en 80%) weer na die oppervlak, maar nie alles gelyk nie. Wanneer dit wel opkom, is groot hoeveelhede daarvan deurtrek met ondergrondse radioaktiewe bestanddele. Plofbare metaan kan nog lank uit tenks en boorgate bly lek nadat die maatskappye al vort is na nuwe weivelde. Werkers is ook meestal totaal onbewus van die gevare waaraan hulle blootgestel word. Vee en wilde diere spring dan natuurlik ook nie die nagevolge vry nie en siektes en sterftes is simptomaties van die gebiede waar hidrobreking plaasvind.


Maar wat gebeur nou eintlik gedurende hidrobreking?
Na ‘n boorgat gesink is, word die ondergrondse rotsbanke met ontsettende hoë waterdruk oopgeruk. Meer as 6 miljoen liter water, ‘n hoeveelheid sand en lorrie-vragte chemiekalieë word per keer gebruik.
Elke boorgat (in groot dele van Amerika is hulle soos hare op ‘n hond se rug) word gewoonlik tot 18 keer gebreek oor ‘n vyf jaar tydperk. Tydens elkeen van hierdie 18 hidrobrekings word tussen 3 tot 10 Olimpiesstandaard swembaddensvol water gebruik. Of anders gestel, tussen 120 en 500 sementdamme – die damme wat langs windpompe op Karooplase te siene is.
Dan is daar natuurlik die sand en 3 000 tot 25 000 liter onverklaarde chemise stowwe.Tydens hidrobreking word die resep onder vreeslike hoë druk deur ‘n staalpyp afgeblaas in die aarde om die rotsbed oop te bars. Die staalpyp is deur sement omgord.
Onthou nou dat die water wat terugkom na die oppervlak so deurtrek is van chemikalieë en soms ook radioaktiwiteit as gevolg van ondergrondse radium en uranium, dat dit nooit weer aangewend kan word vir enige menslike of dierlike of plantegebruik nie.
Wonder jy ook nou wat hulle met die uiters gevaarlike newe-water gaan aanvang? Wel, hulle wonder nog self daaroor. Niemand kan die frackers belet om op sy grond te myn nie, want alle ondergrondse minerale regte behoort aan die Regering. Sou jy 'n stokkie daarvoor wil steek, mag jy jou blootstel aan vervolging.

Waar wil hulle hidrobreek?

Die totale area wat potensieel gemyn gaan word vir gas is groter as die Oos-Kaap en Mpumalanga saam. As jy dink jy gaan die nagevolge vryspring, dink weer. Boorgate word elke paar kilometer gesink, so elke dorp en elke plaas in die area sal beїnvloed word. Boorgate boor boonop horisontaal – ondergronds loop die boorpaaie soos fietsspeke tot 5 km uit om elke bietjie gas vry te stel.

Wie is hidrobrekers?

Drie oorseese maatskappye het regeringstoestemming gekry (deur die Petroleum Agenskap van SA - PASA) om te prospekteer vir gas. Hulle is Royal Dutch Shell, Falcon Oil and Gas uit Amerika en Sunset Energy (ook genaamd Bundu), uit Australië.
Falcon Oil and Gas het ‘n permit verkry vir ‘n gebied wat rofweg een en ‘n half keer so groot is soos die Kruger Nasional Park (30 000 km ²). Dit sluit die bokhaargebied Jansenville in, sowel as Aberdeen, Rietbron, Merweville en Leeu-Gamka. Sunset Energy beoog 'n effe groter gebied – 35 000 km² – insluitend Pearston en distrik Graaff-Reinet. Saam beslaan dit ‘n gebied so groot soos die hele Oos-Kaap.
Dan is daar ook ‘n consortium, bestaande uit Sasol, America Chesapeak Energy en Statoil ASA, wat aansoek gedoen het om fracking-regte te bekom vir ‘n 88 000 km² area, wat groot dele van Kwazulu-Natal en feitlik die hele Vrystaat beslaan.


Hoekom hoor ons nou eers hiervan?
Royal Dutch Shell is besig om hul Omgewingsbestuursplan saam te stel. Hulle konsulteer met jan-publiek, maar dit is moeilik om sulke groot afstande te dek. Dan is hulle ook gedruk vir tyd, want die Regering het hulle net 120 dae gegee om die proses af te handel.
Falcon en Sunset Energy se openbare konsultasie proses is reeds afgehandel. Jy het dalk nie daarvan gehoor het nie want hulle het bloot briewe gestuur aan almal wat volgens hulle geraak sou kon word – hulle erken dat dit moeilik was om op-datum titelaktes van plaaseienaars op te spoor.
Soos dit maar gaan met hals-oor-kop projekte het die meeste munisipaliteite, bestuursliggame en mense wat in townships bly, nog nooit van hidrobreking gehoor nie.

Bring hidrobreking werk?

Dalk - dit is ‘n lang-termyn projek, - ver in die toekoms. Aldus Shell sal hulle vir ‘n periode van nege jaar prospekteer waartydens daar 'nie werklik werksgeleenthede sal wees nie'.

Maar benodig ons nie dringend elektrisiteit nie?

Kan ons nie tyd, geld en energie spandeer op ondersoeke na veilige, volhoubare energie vir ons kinders nie? Ja, maar die gas gaan opraak. Die Amerikaanse Marcellus Shale, dubbeld so groot soos die skaliegas neerslae in die Karoo, gaan na verwagting slegs 14 tot 20 jaar hou. Dit klink miskien vir ons lank, maar in terme van toekoms-beplanning is dit soos ‘n waterdruppel in die Gariepdam.
Daarenteen kan wind en sonkragssverwekking ons kleinkinders van krag voorsien! Ons kan nie nog vars water maak nie, maar ons kan ander maniere vind om elektrisiteit te maak. Sonder skoon drinkwater is daar geen lewe nie. Geen kos. Geen werk.

Carin Bosman is ‘n onafhanklike Volhoubaarheids- en Omgewingsbestuurraadgewer met meer as 20 jaar ondervinding. Sy spesialiseer in waterbronbeskerming en afvalbestuur.

No comments:

Post a Comment