Tuesday, March 22, 2011

Shell se Egipte-oomblik

www.beeld.com







Deur Ferdi Greyling
’n Aansoek deur onder meer die Europese oliemaatskappy Shell om vir aardgas in die Karoo te eksploreer, kan dalk net ’n Egipte-oomblik in Suid-Afrika wees.
“Egipte-oomblik” hier beteken ’n situasie waarin mense inligting via die moderne media kry wat hulle wil laat optree en dat hulle dan die moderne sosiale media gebruik om dit te reël.



’n Kernfaktor hier is die dokumentêre fliek Gasland, wat in 2010 in die VSA gemaak is deur iemand wat bekommerd geraak het oor die moontlikheid dat energiemaatskappye in sy gebied in die deelstaat New York aardgas gaan soek.

Sy kommer was dat dit die rivier wat deur sy eiendom vloei, sou besoedel. Hy het ’n kamera gevat en gaan kyk wat gebeur in dele van die VSA waar gas so uitgehaal word. Waarop hy afgekom het, is ontstellend. Die watertafel van voorheen ongerepte gebiede was soms dodelik besoedel.
Die energiemaatskappye het sy vrae en aantygings ontken. Hy en mense wat hom ondersteun, het terugbaklei en vandag kyk die Amerikaanse departement van omgewingsake na die proses.
Wat die betrokke hidrobrekingsproses volgens die fliek behels, is dat gate baie diep geboor word en ’n oorvloed water waarin ’n klomp chemikalieë vermeng is dan in die gate gepomp word. Dit veroorsaak frakture in die rots en die gas lek dan uit sodat dit ontgin kan word.

Van die bekommernisse wat in Gasland uitgewys word, is dat die chemikalieë gevaarlik vir mense is en dat baie water met chemikalieë gebruik word wat dan in die watertafel inlek.
Shell het onlangs in Sake24 ’n advertensie oor die kwessie geplaas. Daarin sê hy onder meer hy onderneem om bekend te maak watter chemikalieë gebruik word en om grondeienaars vergoeding te betaal as hulle skade sou ly.
Wat die eerste belofte betref, sou ek – as iemand vir wie die Karoo ’n baie spesiale plek is – van onafhanklike kenners wil weet wat die chemikalieë kan veroorsaak as dit in die grondwater kom.
Dit help nie jy belowe om bekend te maak as jy ’n halwe liter arseen in iemand se are gaan spuit nie. Hy sal steeds doodgaan. Wat vergoeding betref: Dit kom ook in Gasland ter sprake.
Daar word gepraat met mense wat nie meer die water op hul plase kan drink nie. Die energiemaatskappye voorsien hulle gereeld van vars water. Wat gaan dit help om geld aan plaaseienaars te gee as groot dele van die Karoo dekades lank giftig sou word? Groter sekerheid is eers nodig dat skade nie aangerig gaan word nie.
Ons is ’n land wat goed weet van mynmaatskappye wat belowe hulle sal skade regstel en dan wanneer die skade duidelik blyk, is hulle nêrens meer te vinde nie. Gauteng is juis besig om hom reg te maak om suur mynwater in ou mynskagte te probeer beheer. En raai wat? Die regering gaan ons belastinggeld daarvoor aanwend.

Ek is gekant teen die beoogde Karoo-eksplorasie. Ek het na Gasland gekyk en daarna gelees die deelstaat New York het sulke ontginning vir eers verbied.
Waar die Egipte-oomblik hier inkom, is die fliek (wat oor die internet gekoop kan word) en minstens twee Facebook-blaaie wat al tot stand gekom het oor die voorgestelde eksplorasie.
Op Facebook kan die blaaie gekry word deur te soek na Chase Shell Oil out of the Karoo en Stop Fracking in the Karoo.

Johann Rupert
Iemand soos mnr. Johann Rupert van Richemont het reeds sy kommer oor die eksplorasie uitgespreek (Die Ruperts het ’n noue verbintenis met Graaff-Reinet in die Karoo).
Dalk kom die burgerlike samelewing hier onder meer deur die nuwe mediawerklikheid van ons tyd saam om van die grond af die beheer te neem van iets wat in hul en hul kinders se belang is.

’n Nuwe soort struggle vir die 21ste eeu dus.

No comments:

Post a Comment